Russies-Japannese Oorlog | |||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|
Kloksgewys van bo: Die Russiese kruiser Pallada word in Port Arthur aangeval; Russiese soldate in Moekden; die Russiese kruiser Warjag en kanonneerboot Korejetz in Tsjemoelpobaai; Japannese gesneuweldes in Port Arthur; Japannese soldate steek die Jaloerivier oor. | |||||||
| |||||||
Strydende partye | |||||||
Japan | Rusland | ||||||
Aanvoerders | |||||||
|
| ||||||
Sterkte | |||||||
1 200 000 (totaal)[1] | 1 365 000 (totaal)[1] | ||||||
Ongevalle en verliese | |||||||
Total: 58 000 - 86 100[2] |
Totaal: 43 300 - 120 000 |
Die Russies-Japannese Oorlog (Japannees: 日露戦争, Nichiro sensō; Russies: Ру́сско-япóнская войнá, Roessko-japonskaja woina) was 'n oorlog tussen die Japannese en Russiese Ryke in 1904 en 1905 oor botsende imperiale ambisies in Mantsjoerye en Korea.[3] Die hoofterreine van militêre operasies was op die Liautoeng-skiereiland, Moekden in Suid-Mantsjoerye, die seë om Korea en Japan en die Geelsee.
Rusland wou 'n warmwaterhawe aan die Stille Oseaan hê vir beide sy vloot en maritieme handel. Wladiwostok was net in die somer ysvry en operasioneel; Port Arthur, 'n vlootbasis in die provinsie Liautoeng, wat die Qing-dinastie van China van 1897 af aan Rusland verhuur het, was die hele jaar operasioneel. Sedert die einde van die Eerste Chinees-Japannese Oorlog in 1895 was Japan bang Russiese indringing sou inmeng met sy planne om 'n invloedsfeer in Korea en Mantsjoerye te vestig. Rusland het sedert die bewind van Iwan die Verskriklike in die 16de eeu 'n beleid van uitbreiding oos van die Oeral, in Siberië en in die Verre Ooste gevolg.[4]
Japan het Rusland as 'n mededinger beskou en aangebied om Russiese oorheersing in Mantsjoerye te erken in ruil vir die erkenning van Korea as binne die Japannese invloedsfeer. Rusland het geweier en het die vestiging van 'n neutrale buffersone geëis tussen Rusland en Japan in Korea noord van die 39ste parallel. Japan het dit beskou as 'n struikelblok in sy planne om na die Asiatiese vasteland uit te brei en het besluit om oorlog te verklaar. Nadat samesprekings in 1904 misluk het, het Japan op 9 Februarie [O.S. 27 Januarie] 1904 'n verrassingsaanval geloods op die Russiese Oostelike Vloot in Port Arthur.
Hoewel Rusland 'n paar nederlae gely het, was keiser Nikolaas II oortuig dat Rusland nog kon wen as hy bly veg; hy het besluit om die oorlog voort te sit en te wag op die uitslag van belangrike seeslae. Toe hoop op 'n oorwinning vervaag, het Nikolaas die oorlog voortgesit om Rusland se waardigheid te behou en 'n "vernederende vrede" te vermy. Rusland het Japan se bereidwilligheid vroeër geïgnoreer om 'n wapenstilstand aan te gaan en die idee verwerp om die saak voor die Permanente Arbitrasiehof in Den Haag te bring.
Die oorlog is uiteindelik beëindig met die Verdrag van Portsmouth (5 September [O.S. 23 Augustus] 1905), wat deur die Amerikaanse president Theodore Roosevelt bemiddel is. Japan se algehele oorwinning het internasionale waarnemers verras en die magsbalans in beide Oos-Asië en Oos-Europa verander. Dit het Japan se opkoms as 'n groot moondheid bevestig en gelei tot 'n afname in Rusland se aansien en invloed in Oos-Europa. Rusland se aansienlike verliese vir 'n saak wat in 'n vernederende nederlaag geëindig het, het bygedra tot die toenemende binnelandse onrus wat gelei het tot die Russiese Rewolusie van 1905 en het Rusland se outokrasie groot skade berokken. Die oorlog was ook die eerste oorwinning van 'n Asiatiese land oor 'n Westerse mag in moderne tye.[5]